Honorius

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Honorius

Ouers Theodosius I
Kinders
Huweliksmaat
Broers en susters Arcadius van Bisantium
Galla Placidia
Constantius III (swaer)

Flavius Honorius (384 - 423) was mede-keiser saam met sy vader Thedosius in die weste van die Romeinse Ryk van 393 tot 395 en keiser van die Wes-Romeinse Ryk van 395 tot 423. Hy word algemeen beskou as een van die mees onbekwame keisers in die geskiedenis van die Romeinse Ryk. Aan die begin van sy bewind was daar nie veel sprake van die gevaar van 'n ineenstorting nie. Aan die einde van sy bewind was die Wes-Romeinse Ryk op die rand van ineenstorting.

Keiserskap[wysig | wysig bron]

Na die dood van sy vader Theodosius I in 395 is die Romeinse Ryk finaal in twee verdeel. Honorius was die jongste van Theodosius se twee seuns, onder wie die ryk verdeel is. Sy broer, Arcadius, was keiser van die ooste. Honorius was maar agt jaar oud toe hy keiser geword het. Hy het uit die hande van sy vader se raadgewer, Flavius Stilicho, geëet. In 398, op die ouderdom van veertien, is hy verplig om met Maria te trou. Volgens die historikus Zosimus is die huwelik nooit gekonsummeer nie.

Na die Gotiese Oorlog van 402-403 het die hof in Milaan na die veiliger stad van Ravenna verskuif. Die ryk het voortgegaan om die druk van die groot migrasie vanaf die noorde teen te staan. In 405 of 406 het die Vandale en Alans die Ryn oorgesteek. In 407 het sy vrou Maria gesterf en asof dit nie genoeg was nie, het generaal Konstantyn, goewerneur van Britannia, homself tot keiser uitgeroep.

In 408 is hy getroud met Stilicho se jongste dogter, Thermantia. In dieselfde jaar is sy ouer broer Arcadius dood. ’n Gerug is versprei waarvolgens Stilicho met die idee vorendag sou kom om sy seun Eucherios op die Oos-Romeinse troon te plaas. Honorius het uit woede vir Stilicho en sy seun laat teregstel en sy vrou Thermantia teruggestuur na haar moeder.

In 410 is Rome geplunder. Sy nuwe magister militum, Constantius, wat later in 421 as sy swaer en mede-keiser vir 'n kort rukkie die troon sou deel, het sy bes gedoen om die skade te beperk. Die rebelle, Konstantyn III en Heraclianus, is verslaan. ’n Ooreenkoms is met die Boergondiërs aangegaan. Die Wes-Gote het egter 'n groter probleem gebied. Hulle het hul eie ryk in die suide van Gallië gestig en hul eie keiser aangestel: Priscus Attalus. Honorius se halfsuster, Galla Placidia, is gevange geneem en is met die Wes-Gote se koning Athaulf getroud. Na sy dood (415) is sy met Constantius III getroud. Sy het vir hom 'n seun gebaar, wat later Honorius se opvolger sou word. (Valentinianus III). Constantius het in 421 gesterf en Honorius was dwaas genoeg om sy eie halfsuster die hof te maak. Sy het saam met haar seun na Konstantinopel gevlug.

Honorius het in 423 sonder kinders gesterf na 'n uitgerekte maar magtelose bewind. Sy opvolger was sy primicerius notariorum, Johannes, wat in 425 deur die oostelike troepe verdryf is (Hy is nie deur die Oos-Romeinse keiser Theodosius II erken nie, en is daarom 'n usurpator genoem), waarna Valentinianus III keiser geword het.

Oordele oor Honorius[wysig | wysig bron]

Keiser Honorius, skildery, 19de eeu

Die historikus John Bagnell Bury skryf as volg oor Honorius: “Sy naam sou vergete gewees het as een van die mees obskure houers van die keiserlike troon as dit nie was vir die feit dat sy bewind saamgeval het met die noodlottige tydperk waarin besit van Wes-Europa van die Romeine na die Teutone oorgegaan het nie." Nadat hy die rampe opgesom het wat tydens Honorius se bewind van 28 jaar plaasgevind het, kom Bury tot die gevolgtrekking dat Honorius "self geen aksie geneem het teen die vyande wat sy ryk bedreig het nie, maar persoonlik uiters gelukkig was om voort te gaan om die troon te beset totdat hy aan natuurlike oorsake gesterf het, terwyl hy getuie was van die ondergang van 'n menigte usurpators wat teen sy bewind in opstand was."[1]

Procopius[wysig | wysig bron]

Keiser Honorius se gunstelinge; skildery deur John William Waterhouse (1883)

In sy Geskiedenis van die oorloë vermeld Procopius 'n verhaal (wat Gibbon nie as geloofwaardig beskou nie) waarin Honorius, by die aanhoor van die nuus dat "Roma" "omgekom" het, aanvanklik geskok was. Hy het gedink dat die nuus betrekking het op sy gunsteling haan, wat ook die naam "Roma" gehad het.

Daar word gesê dat keiser Honorius op hierdie tydstip in Ravenna berig ontvang het van een van die eunugs, blykbaar die eunug wat in beheer was van die pluimvee, dat Roma omgekom het. Hy roep toe uit: "En hy het tog nou net uit my hande geëet!" Want hy het 'n baie groot haan gehad met die naam van Roma. Die eunug wat die fout verstaan het, het opgemerk dat die stad Roma ten gronde gegaan het teen Alarik. Die keiser het 'n sug van verligting geslaak en vinnig geantwoord: "Maar ek het gedink my haan Roma is dood." So groot, sê hulle, was hierdie keiser se dwaasheid.”
— Procopius, Die Vandaalse oorlog III 2.25-26.


Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Nederlandse Wikipedia vertaal.

Verwysings[wysig | wysig bron]

Bronne[wysig | wysig bron]

Primêre bronne[wysig | wysig bron]

Sekondêre bronne[wysig | wysig bron]

  • Birley, Anthony Richard (2005). The Roman Government of Britain. Drukpers van die Universiteit van Oxford.
  • Blockley, R.C. (2003). "The dynasty of Theodosius". In Garnsey, Peter; Cameron, Averil (reds.). The Cambridge Ancient History. Vol. XIII: The Late Empire, A.D. 337-425. Drukpers van die Universiteit van Cambridge.
  • Doyle, Chris. Honorius: The Fight for the Roman West AD 395-423. Roman Imperial Biographies. Routledge. (2018)
  • Doyle, Christopher. The Endgame of Treason: Suppressing Rebellion and Usurpation in the Late Roman Empire AD 397‑411. (2014) Nasionale Universiteit van Ierland, Galway. Ongepubliseerde doktorale verhandeling. https://aran.library.nuigalway.ie/handle/10379/4631
  • Elton, Hugh (2018). The Roman Empire in Late Antiquity: A Political and Military History. Drukpers van die Universiteit van Cambridge.
  • Kovács, Tamás. “410: Honorius, His Rooster, and the Eunuch (Procop. Vand. 1.2.25–26).Graeco-Latina Brunensia 25, no. 2 (2020): 131–48. https://doi.org/10.5817/GLB2020-2-10.
  • Jones, A.H.M. (1964). The Later Roman Empire, 284–602: A Social, Economic, and Administrative Survey [Paperback, vol. 1]. Basil Blackwell Ltd. ISBN 0-8018-3353-1.
  • Mathisen, Ralph, "Honorius (395–423 A.D.)", De Imperatoribus Romanis
  • McEvoy, Meaghan A. (2010). doi:10.1017/S0068246200000854|'Rome and the transformation of the imperial office in the late fourth - mid-fifth centuries A.D.', Papers of the British School at Rome 78: 151–192.
  • McEvoy, Meaghan A. (2013). Child Emperor Rule in the Late Roman West, A.D. 367-455. Oxford Classical Monographs. Drukpers van die Universiteit van Oxford. ISBN 978-0-19-966481-8.
  • McEvoy, Meaghan A. (2013). 'The mausoleum of Honorius: late Roman imperial Christianity and the city of Rome in the fifth century', in Rosamond McKitterick, John Osbourne, Carol M. Richards, Joanna Story (reds.), Old St Peter's, Rome, Cambridge: Cambridge-universiteit drukkers: 119–136.
  • Jones, Arnold Hugh Martin; Martindale, J. R.; Morris, John, reds. (1971). "Fl. Honorius 3". Prosopography of the Later Roman Empire. Vol. I, AD 260–395. Drukpers van die Universiteit van Cambridge. ISBN 9780521072335.
  • Bury, John Bagnell (1889). A History of the Later Roman Empire from Arcadius to Irene (395 A.D. to 800 A.D.). Macmillan Publishers.
  • Gibbon. Edward Decline & Fall of the Roman Empire (1888)

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]